Game and livestock farm for sale around Hopetown in the Northen Cape province of South Africa.
Die plaas lê ongeveer 100 km suid van Kimberley op die N12 suidwaarts na Hopetown en is 10 km vanaf die teerpad by die Belmont stasie op pad na die Vrystaat. Dis 'n baie veilige en mooi deel van die NoordKaap.
Die plaas is 1 837 ha groot en bestaan uit twee dele - die noordelike deel is meestal rante met doringbome en vaalbos terwyl die suidelike deel meer grasveld is, maar tog ook sy kwota doringbome het. Die grondpad tussen Belmont en Luckhofff deel die plaas in twee ewe groot dele.
Die plaas het definitief potensiaal om 'n baie mooi en besonderse wildplaas te wees. Hier is heelwat ribbokke (40+) asook koedoes op die plaas. Van die ribbokke is al so mak dat hulle by die krip naby die huis in die aand kom water drink. Hier is ook dassies, steenbokkies, duikertjies, erdvarke, vlakvarke, bakoorjakkalsies, draaijakkalse, silwerrug jakkalse, rooikatte, ystervarke, miervreters, ens. Hier is ook baie voëls.
Die suidelike deel is drie-kwart elektries omhein wat maak dat die kampdrade 'n bietjie hoër is as normaalweg vir 'n veeplaas. Die heel noordelike grens van die plaas grens aan 'n wildplaas en het reeds 'n bestaande wildsheining.
Daar is 3 windpompe, 1 dompelpomp en 6 gronddamme.
Die huis is meer as 'n 100 jaar oud, gebou van rou bakstene en het ongelukkig weens finansiële redes nie die volle aandag die afgelope tyd gekry wat nodig was nie. Daar is 4 slaapkamers, 2 badkamers, eetkamer, sitkamer, toegeboude sonkamer en kombuis. Al die vensters en deure het diefwering en veiligheidshekke. Dis egter 'n heerlike leef-huis wat met die tyd opgeknap kan word. Die huis en tuin is met 'n hoë heining omhein wat dit moontlik maak om genoeg honde te hê vir veiligheid.
Interessantheidshalwe: Die Slag van Belmont tydens die Anglo Boereoorlog het tussen die Belmont-stasie en die plaas plaasgevind en die Boere se laer was op ons plaas. Hier is heelwat sketse wat deur die Boere op die rotse uitgekrap is terwyl hulle vir die Engelse gelê en wag het. Hier is ook Boesman-tekeninge.